Jaarliks stuur ons die gemeentelike statistieke aan die Admin Buro vir plasing in volgende jaar se Almanak. Alles word noukeurig nagegaan in die kerkkantoor en die leraars hou ook nog ‘n wakende ogie oor die korrektheid van die gegewens. Dan word dit onderteken en deurgestuur. Elke jaar is ek so bietjie angstig as ons met die proses aan die gang is. Ek onthou dat toe ek twintig jaar gelede hier aangekom het ons getalle so op ongeveer 580 belydende lidmate gestaan het. Jaarliks het die getalle vir ‘n paar jaar egter dramaties gegroei. Ons moes maar bontstaan met die groei. Ek onthou hoe ons vir die pret ‘n boks sjokolade gegee het vir die duisendste lidmaat wat by ons aangesluit het!
Vandat ons die duisend-merk bereik het, het tye in ons land en wêreld verander en kerke se getalle het dramaties oor die hele land begin daal. Dit het die afgelope jare krisisafmetings aangeneem en die daling landwyd die laaste tien jaar word in die Susterskerke op meer as 30% beraam!
Wat egter opvallend is is dat ons getalle oor die laaste 10-15 jaar heeltyd rondom 1000 belydende lidmate gebly het. En as u nou na die onderstaande tabel kyk sien ons dat in hierdie tyd ons selfs groei toon!

Belydende Lidmate – 1052 (was laasjaar 1012 – 40 meer)

Dooplidmate – 341 Huisgesinne – 692

Totaal – 1393 Besoekpunte – 557

Ten spyte dus van die daling in meeste kerke het ons getalle stabiel gebly, wat in prinsipe eintlik op groei dui. Die afgelope twee jaar groei ons weer stadig in statistiese getalle waaroor ons dankbaar en bly is.
‘n Groter gemeente bring groter verantwoordelikhede en daarin het die Here ons ook geseën met baie gawes en middele. Alhoewel ons baie meer kan doen en offer, dank ons die Here vir hierdie gemeente se dienswerk en liefde en gawes. Ons vra steeds dat u nie agteroor sal gaan sit en wag vir ander om dinge te laat gebeur nie, maar dat elke lidmaat sy/haar roeping in hierdie gemeente van Christus sal uitleef!
Ons dank die Here vir die onverdiende genade en seën.

Ds Maarten