Nuus

Luister na die eredienste hier.

Kyk na direkte video uitsendings hier!

For English services click here:

Diensbeurte:
Ouderlinge: Gerrit Kamper  Alethea: Jan Reesink
Diaken: Corne du Plessis

KATKISASIE:
Eers weer volgende jaar

Ons gee om:

  • Meelewing word betuig met Fransa van Niekerk en familie na die afsterwe van Fransa se vader.
  • Geluk aan Andries en Martie Louw wat gister in die huwelik bevestig is.

Die erediens op Kersdag begin om 08:00 olv Ds Gerrit Kruger

Lees die kommunikaatjie (of by die deure) vir nog nuus.

Trane word vreugde

Skriflesing: Jeremia 31 en Matteus 2
Teksvers: Jer 31:15,16 asook Matteus 2:18

In Matteus 2: 16-18 word vertel dat Herodes, toe hy agtergekom het dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, woedend geword het. Daarom het hy sy soldate na Betlehem en die hele omgewing gestuur om al die seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. So het die profesie van Jeremia 31:15 in vervulling gegaan. Daar staan dat daar ’n gekerm vanuit Rama gehoor was, ’n gehuil vol hartseer, want Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders was nie meer daar nie.

Teenoor die hartseer van Ragel het die Here egter volgens Jeremia 31:16 gesê dat die treurendes gerus maar stil kan word. Hulle hoef nie meer te huil nie en hulle hoef ook nie meer trane in hulle oë te hê nie! Die Here belowe dat daar teenoor al die swaarkry, ‘n heerlike verwagting sal wees. Die spreekwoordelike kinders van Ragel sal uit die vyand se land terugkom. Ja daar sal ’n toekoms vir haar nageslag wees.

Wat is dit wat Ragel se diep seer, wat sy in Rama ervaar het, in vreugde sal laat kan verander?

Hoe kan daar vreugde in jou lewe wees ten spyte van seer en swaar?

Laai af

Om die Here in Kersfees raak te sien

Skriflesing: Joh1:1-34; Joh 3:3; Eks 33:14 tot 34:10
Teksvers: Joh 1:14

Ons teksvers is seker een van die mees dramatiese woorde wat ooit in die wêreld uitgespreek of gehoor is. Niemand het dit nog ooit voorheen gesê of geskrywe nie en niemand het dit nog ooit weer nagedoen nie. Uniek is dit dus daarin dat die (af)gode van die mensdom nooit so iets sou doen nie. Hulle is té verhewe (transendent) en te magtig en groot en vér. Dit is juis dáárin dat die God van die Bybel, die enigste ware en lewende God, Skepper van hemel en aarde en alles daarin en daarop, so anders is. Daarom dat hierdie stelling van ons teks en die openbaring wat daarin na vore kom so dramaties-uniek en aangrypen-troosvol is. Om die waarheid te sê, dink ek dat dit juis die doel van die hele Godsopenbaring was en is: God maak Homself bekend aan mense en die hele skepping as die God van goedheid en genade. Hy is een wat haastig is om gena-dig te wees en sondes te vergewe. Die vraag is vandag of jy en ek soos Moses en die dissipels in staat is om dit raak te sien…

“As iemand nie weergebore word nie… kan hy…nie sien nie” (Joh 3:3)

Laai af

Die geritsel in die toppe van die melkbosse Die Here verslaan sy en ons vyande

Skriflesing: 2 Sam 5:17-25
Teksvers: 2 Sam 5:24

As jy die geritsel in die toppe van die melkbosse hoor moet jy weet dit is die teken van die Here om aan te val. Doen dit blitsvinnig en sonder om te wag. Die geheim van sukses is gehoorsaamheid! Gehoorsaamheid aan God!

Wie luister sal oorwin! Wie verloor in die lewe, is die wat ongehoorsaam is! Gehoorsaamheid aan God is om altyd na God te gaan en raad en leiding te vra in jou hele lewe onder elke omstandigheid. Dawid het telkemale na die Here gegaan en die Here geraadpleeg.

Raadpleeg jy die Here in al jou doen en late? Vra jy na sy wil in alles wat jy doen?

Laai af

Wat God beloof, word waar

Skriflesing: Miga 4:1 tot 5:14
Teksvers: Miga 5:1

In die profesie van Miga openbaar die Here Homself as die Een wat oordeel en genade betoon. Aan die een kant profeteer Miga dat oordeel op oordeel oor die inwoners van Samaria (10 stammeryk) en Jerusalem (2 stammeryk) gaan kom. Aan die ander kant kondig die Here genade, onverdiende genade, red-ding, vrede en uitkoms vir sy kinders aan.

Die klimaks van die Here se genade word gehoor in die woorde van Miga 5. Daar staan in vers 1 dat daar in Betlehem ‘n redder gebore sal word. Hierdie belofte het in Matteus 2 in vervulling gegaan met die geboorte van Jesus Christus in die stad van Dawid.

Advent (die weke voor Kersfees) hou in dat ons, ons verbly oor die Here wat nie sy beloftes vergeet nie. Hy is getrou en Hy sal al sy beloftes in vervulling laat gaan.

Laai af

Ons het nie krag nie!

Die krag het nou-net afgegaan. Ek bel die bure. Ja, hulle krag is ook af. Ek bel nog iemand in ‘n ander deel van die dorp. Hulle het ook nie krag nie. En daar sit ons nou met die halfgebakte pere. Die radio wat gelukkig met batterye werk laat hoor so ‘n uur of wat later van die kragkrisis. Eskom het probleme. Almal het nou probleme: ons het nie genoeg krag nie! Dit dreig om ‘n nasionale krisis te word, al sê die minister ook wat.

Skielik besef ek hoe afhanklik ons geraak het van iets wat ons as vanselfsprekend begin aanvaar het. Jy druk mos net ‘n knoppie, en siedaar… die ligte werk! Nooit gedroom dat ons weer in donker Afrika sou wees nie. En nou is dit so. Ons krag is te min. Gereeld sal ons sê: Ons het nie krag nie. Laat my toe dink hoe ons eintlik as mense ook maar nie krag het as dit nie van bo gegee word nie! Ons lewenskrag kom immers nie uit onsself nie. Eintlik is ons maar “net kleipotte wat maklik breek… die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie” skryf Paulus (2 Kor 4:7). Krag wat alles oortref! In die voorafgaande verse gaan dit juis oor Christus wat in ons harte woon en daar skyn met die lig van die heerlikheid van God. Ons is “mense van die lig” omdat ons Christus het wat “die Lig vir die wêreld” is! In sy lig sien ons die lig (Ps 36:10). Deur sy krag en genade leef ons en beweeg ons en is ons!

Tog het ons al so in die gewoonte gekom dat die Here krag gee, dat ons dit ook maar as vanselfsprekend aanvaar het. Natuurlik gee God aan ons die nodige krag vir elke dag. Dit is sy genade. Juis in ons swakheid kom sy krag in ons beter sigbaar na vore. Dan kom al die eer ook Hom toe wat ons die krag gee. As ons te veel op eie krag sou staatmaak, dan maak Hy ons weer bewus van ons swakheid (deur beproewing of teenspoed) sodat ons kan bely: “As ek swak is dan is ek sterk” (2 Kor 12:10).

Ons het nie krag nie!

Ja, dit is waar die Here ons wil bring. Ons het self nie krag vir die lewe en sy aanslae nie. Uit daardie besef groei die gebed: Here gee ons krag! Gee vir elke dag die genadekrag wat ons nodig het. En vergewe ons as ons dit dikwels as vanselfsprekend aanvaar het. Ons prys U, want U is ons lewe! U gee krag na kruis. U skenk ons alles wat ons nodig het om te lewe en u te dien (2 Pet 1:3).

Al gaan die krag dus af. Vir my en my bure en ook vir u elkeen is daar krag by die Here te vinde… ja, ook hier in donker Afrika!

Ds Maarten